• Autus Team

THE OLD DOG - DIE LEWE

Updated: Jul 27


Die vorige twee onderwerpe waaroor ek geskryf het, was “The Rules of Life” en “Peace of Mind”. Na die onsekerheid en wisselvallige eerste 6 maande van 2022 het ek gedink “Die Lewe” in ‘n onderwerp om iets oor te probeer sê sonder om ‘n tesis te skryf.



‘n Goeie vriend FP (vir beskerming teen wetgewing gebruik ek maar net voorletters) sê eendag: “ons is almal maar net die gevangene van ons eie persoonlikheid Niemand van ons het enige inset oor wanneer, wie en waar ons gebore word nie. Hoe meer ek oor die heelal lees en dink oor die skepping hoe minder verstaan ek. My Pa het egter eendag vir my gesê: “as jy net weet hoe min jy weet, dan weet jy al baie” en ek besef dit elke dag al hoe meer. Oor wie ons ouers en familie is en waar ons grootword is ‘n gegewe. Hoe ons ouer word, vriende kies, ‘n loopbaan begin en in daardie omstandighede begin keuses ‘n rol speel maar baie daarvan is steeds gekoppel aan ons grootwordjare. Elke keuse wat jy uitoefen het ‘n resultaat en die uitkoms is waarmee jy vir altyd moet saamleef. Gister is geskiedenis – waaraan jy niks kan doen nie (en nie kan verander nie), vandag is die lewe en môre is onbekend.


VV sê altyd: “‘n pannekoek kan jy maar bak net so dik of dun as jy wil maar dit het net twee kante”. En so is dit met die uitoefen van keuses. Is die 2 kante reg of verkeerd, is dit goed of uitstekend, is dit ‘n mislukking of kan jy maar daarmee saamleef en verskaf dit vreugde of ongemak. Die lewe werk nie met knoppies en ‘n rekenaargeheue waar jy sake kan uitvee, verander of mooi maak nie. Wat gesê is, gedoen is en gebeur het is wat ons noem geskiedenis – Gelukkig word die geskiedenis nie altyd vasgelê op skrif nie maar sommige dinge vervaag oor tyd, terwyl ander inbrand is in ons geheue.


Ek hoor so baie mense sê “eendag” of “ek moes” of “ek sou graag” maar daar is so baie onbekendes wat voorlê (wat ons geensins kon voorsien nie) wat ons beplanning, drome en wense verander. En al hierdie dinge gebeur terwyl die kosbare bate van tyd verby snel. Ek is gelukkig met my beroep – ek werk met mense en ek kan berekeninge inligting deel en advies gee of sommer net ‘n klankbord wees - iets wat ek baie geniet. Wat egter ook waar is, is dat soos die jare aanstap ek soms wonder hoe ander besluite sou uitdraai, wat van mense geword het wat voorheen my pad gekruis het, met wie ek verskil het of wat my lewe aangeraak het. Ek is bevoorreg om in my beroep gereeld nog ander mense te ontmoet – en weereens te besef elkeen is uniek in sy eie reg. Ek is bevoorreg om saam met jong mense te werk, te sien hoe hulle aanpas in die veranderende wêreld, hoe hulle ontwikkel en groei (en my hoop gee vir die toekoms) en ook keuses uitoefen waarvan hulle dalk eers oor twintig of dertig jaar die resultaat sal weet.


Sluit vir ‘n oomblik jou oë en verbeel jou jy woon jou eie begrafnisdiens by – en ek weet dit is ‘n bietjie vêrgesog, maar lees verder. Wat se lewe sou jy graag wou lei, wat wil jy onthou en waaroor gaan jy spyt wees? As dit moontlik is probeer sommige van onderstaande toepas, doen en uitleef – mag dit jou baie vreugde verskaf!


  • Ek wens ek het my minder gesteur aan wat ander mense van my dink. Hou op om energie en tyd daaraan te spandeer – wat maak dit in alle gevalle saak?

  • Ek wens ek het meer bereik. Jy hoef nie ‘n Oscar te wen, ‘n bekende entrepreneur te wees, die Comrades te voltooi nie maar klein doelwitte wat bereik is, is meer belangrik.

  • Ek wens ek het “iemand” eerlik vertel hoe ek voel. Om eerlik te wees in die opsig is regtig moeilik maar onthou dit bly jou altyd by en jy moet daarmee saamleef.

  • Ek wens ek het meer vir myself opgestaan. Hierdie is regtig ‘n moeilike een maar tog bring die ouderdom insig om te aanvaar maar nie ten koste van jouself nie.

  • Ek wens ek het my passie in lewe uitgeleef. Ons word maklik verlei deur ‘n vaste salaris, ‘n konstante roetine en ‘n gemaklike lewe – maar teen watter prys?

  • Ek wens ons laaste gesprek was nie ‘n argument nie. Die lewe is so kort en ons weet nie of ons dit ooit sal kan regstel nie – ek weet nie regtig nie maar is aanvaarding en ‘n verskoning nie maar makliker nie – en dit bly dalk vir ewig daardie persoon by.

  • Ek wens ek het ander toegelaat om net hulself te wees. Die besef van liefde, deernis, empatie en aanvaarding is soveel belangriker as verskille oor waardes en eie sienings.

  • Ek wens ek het meer in “die oomblik” geleef. Die lewe is kort en gister is verby. Moes ek nie maar tog iets gedoen, gesê of ervaar het nie?

  • Ek wens ek het minder gewerk. – die mense wat my goed ken sal lag as hul my dit hoor sê – maar sukses en dinge bereik is nie noodwendig vereistes vir ‘n goeie lewe nie.

  • Ek wens ek het meer gereis, berg geklim, in die see geswem en met kinders gespeel. Ons soek so gereeld ‘n rede om nie die dinge te doen nie en as ons eendag kan is die bene of lyf nie meer lus daarvoor nie.

  • Ek wens ek het eerder my “gut” geglo as om na ander te luister. Jou eie besluite gee baie meer vervulling en vreugde en bring ervaring wat die lewe jou moet gee – en jy kan niemand verwyt daarvoor nie.

  • Ek wens ek het beter na myself omgesien. Eet, drink en kuier is lekker maar oefening is moeiliker en neem tyd. Stap is wonderlike oefening.

  • Ek wens ek het meer risiko geneem. Ons het elkeen ‘n eie siening oor risiko’s maar soms is die gemaksone waarin ons is net te snoesig. Die lewe bied baie en moet nie alles mis nie.

  • Ek wens ek het meer tyd gehad. Ons kan seker maar net elkeen ons eie tyd beheer – waaraan spandeer jy dit en is dit vervullend? Gaan dan voort daarmee of jy mors kosbare oomblikke.

  • Ek wens ek het myself nie so baie oor dinge bekommer nie! Ons is wie ons is en ons persoonlikhede bring maar die saak oor ons pad. Poog egter mooi daaroor te dink en of jy regtig iets kan verander.

  • Ek wens ek het “iemand” meer waardeer. Aanvaar ons iemand maar as vanselfsprekend? Van my wonderlikste oomblikke is as iemand vir my mooi woorde sê – dankie, waardeer, ek verstaan, ek dink aan jou, jou omgee, jou hulp is seker van die dinge wat my die meeste vreugde gee.

  • Ek wens ek het meer tyd met mense spandeer wat vir my omgee. Omstandighede en prioriteite maak dit soms onmoontlik. Deesdae is ek snoep met my tyd en vergewe mense wat dit nie kan aanvaar nie.

  • Ek wens ek het myself nie so ernstig opgeneem nie. Die lewe is seker meer pret as jy baie lag en veral vir jouself.

  • Ek wens ek kon meer doen vir ander. Ek het hard probeer (maar ook duur lesse geleer) maar weet dit het baie vreugde vir myself verskaf.

  • Ek wens ek kon gelukkiger voel. Geluk is nie waar jy woon, werk of speel nie, dit is nie die mense of omgewing waarin jy verkeer nie. Geluk is in jou hard en gemoed en net jyself kan dit verander.



Ek besef weereens dat ek elke dag steeds iets leer. Enjoy life!

christo


Disclaimer:

Autus Private Clients (Pty) Ltd (APC) sends this writing on behalf of Christo to clients of choice and does not publish the content on social media. If you prefer not to receive it, please notify me by email at christo@autus.co.za. Christo Malan is the chairman of the Autus Group, an authorised representative at APC, and Aboutir Wealth (Pty) Ltd (Aboutir). He sometimes sits in on the Autus Fund Managers (Pty) Ltd (AFM) investment meetings. (APC, AFM, and Aboutir disclaimers here.)

This writing aims not to advise or to make statements of any kind or offend someone. Instead, the goal is to share this on an informal and ad hoc basis as the craving for writing arises. Don't hesitate to contact APC and speak to one of our experienced and well-qualified planners for professional financial advice. Would you mind enjoying and feeling free to share this with anyone?

Recent Posts

See All